Total Pageviews

Monday, January 16, 2012

Brooklyn Blues



© 2012 VDS Brink  
(‘n Storie is so iewers tussen die waarheid, die liegstorie en my verbeelding.)

Sy kyk na dit in haar bewende hande. Dit glim metaal blou, 'n 9mm pistool. Sy het nog nooit so iets vasgehou nie. Voor haar 7000 mense, vooroor gebuig, reg vir aanval.
Sy is bang...sy weet almal kyk vandag net vir haar, dat alles nou van haar afhang en dat as sy die sneller gaan trek daar geen fout mag kom nie.
Sy staan op ‘n verhogie en by haar Meneer die Hoofbestuurder in sy kispak, goue cufflinks en ‘n donker rooi das. Hy sê sag vir haar, “Jy lyk pragtig vandag, mammie.“
Mevrou is getooi in ‘n snyerspakkie, goue oorbelle en Kurt Geiger hoë hak skoentjies. Alles mooi afgerond met ‘n Gucci handsakkie. “Ja, maar sê nou ek doen dit verkeerd, ” fluister sy bang. 
“Toemaar ek sal jou mooi help,” antwoord hy, “My toespraak is maar net 27 minute lank en as ek sê, ‘nou ten slotte’, dan lig jy jou hand en as ek sê ‘dankie’ dan trek jy die sneller.” Sy lyk onseker, maar hy gee haar ‘n drukkie en haar lippie bewe nie meer soveel nie.
 Welkom by McBain Toyota se jaarlikse Brooklyn Mall halfmarathon! Die verhaal wat hom Saterdae half ses soggens afspeel as duisende padhardlopers die langpad aandurf. Die een is nie vir sissies nie en na twintig en meer kilometers is dit net die uitverkorenes wat oorbly. Dis hier wat ons klein outjies gedy en die macho tall-dark-and-handsome tipes ore aansit.
Ons is reeds vroeg daar, ingeskryf, Deep Heat ingesmeer en die adrenalien loop dik. Ons gesels opgewonde met vriend en vyand, spog aan ons voete met peperduur Pumas, Adidas en Nikes terwyl ons die veelkleurige hempies van ons klubs vertoon.
Die toneel opgestel, McBain se vlae wapper vrolik in die windjie, die Metro polisiemag is op hul pos. Vandag gaan almal dit geniet, niemand sal seerkry nie en weer sal McBain en sy wonder voertuie koning kraai. Die lewe is mooi!
Die hardlopers staan opgelyn, die met ‘n oog op die goue beker het hulself heel voor ingewurm en staan effens vooroor reg om die eerste 50 meter baie vinnig weg te kom van die tierende massa. So twintig meter voor hulle staan ‘n uit-die-boks metaalgrys Prado met ‘n luierende masjien. Op sy dak ‘n reuse digitale horlosie wat pryk met die syfers 0:00:00.
Die instruksies duidelik aan die senuweeagtige drywer gegee, “Luister Koos, moet nou nie weer opneuk nie, jy kyk voor jou, hou jou hand op die horlosieknop en as die skoot klap druk jy dit dadelik, dan ry jy en jy bly twintig meter voor die voorste hardlopers.
Meneer dreun voort, terwyl Mevrou senuweagtig die pistool vashou. Tot almal se verveling besing hy die lof van McBain en die Toyota Motorkorporasie en hoeveel hulle vir ons, ons wonderlike stad, ons land, ons mense, veral die kinders, die renosters daar onder in die Laeveld, die perlemoen in die see by Hermanus en die mooie omgewing omgee ... McBain verbind hom derhalwe weereens daartoe om alle rolspelers aan te moedig tot 'n paradigma skuif in hul denke vir die daarstelling van 'n volwaardige en volhoubare toekoms vir ons land en sy mense ... die hardlopers raak al meer ongeduldig.
Toe gebeur dit ... ’n sersant van die Tshwane Metropolisiemag, getooi in leer en vele medaljes, kom luidrugtig ingery bo-op ‘n BMW GS en maak ‘n swierige draai voor ons almal. Net toe hy terug throttle gee die GS ‘n luide misfire, "Gwhaaa!!".

Niemand roer nie, maar Koos, die Prado bestuurder, fokus op wat saak maak, trek weg teen 15 km per uur en bo-op sy dak tik die horlosie meedoënloos 0:00:01, 0:00:02, 0:00:03....








Saturday, January 7, 2012

Die Slag van Zebula


Die Slag van Zebula
© 2012 VDS Brink
(Die name van die skuldiges is effens verander)

So drie jaar gelede gebeur die ergste ... daai gewone Vrydagaand noodoproep: “Ons het die sessie vir ons kliënte en nou het ons gasspreker kop uitgetrek, ek hoor jy doen sulke goed, kan jy ons help?” vra Carel die bedryfsbestuurder by Premier Funeral Assurers Pty Ltd.
“Annie moes dit doen en nou is sy inderhaas Windhoek toe en my baas wil nou my ophang.”
“Wie is die gehoor?” vra ek.
“Ons grootste kliënte, Mellet’s  Begrafnis Ondernemers en jy moet hulle op die middag van Woensdag  5 November vanaf twee uur tot vier kom motiveer...”
“Maar ek doen dit nie, ek fokus op besigheid,” protesteer ek.
“Asseblief tog, hulle gaan my fire, jy moet my help.” pleit hy.
“Ok, Carel, ek skryf nou vir jou ‘n voorstel en dan, maar ek doen niks voor nie van jou hoor nie.” dreig ek na vele wonde van die verlede. Ek skryf ‘n Memo van Verstandhouding. Dag, tyd en plek presies gedefineer. Vat ‘n kans en sit die vet som van R15000 onderaan as my fooi. Dis iedergeval tipies wat Annie sou vra.
Saterdag  en Sondag kom en gaan. Ek skryf hulle af, maar Maandag 12 uur bel hy met ‘n lang storie.
“Maar Carel, is dit nou aan?” vra ek.
“Natuurlik, hoekom vra jy nog!”
Later daardie middag bel hy weer:  “Jy is hopeloos te duur ons kan dit nie betaal nie.” vat hy ‘n kans.
“Jammer ou, ek ry nie 360 kilometer  vir peanuts nie, “ wetende sy kop is op die blok.
“Dis nie ons skuld dat jy met so ‘n duur kar ry nie, maar ok dan. My baas gaan baie ongelukkig wees hiermee.”
Ek spring aan die werk met die hart van my storie uit die artikel, “The Business of Death” van oorlede Maverick Magazine.
Dinsdag die 4e breek aan. Ek is in Sandton met my Discovery projek besig. Die foon lui net toe ek deur Midrand terug ry...: “Is jy al op pad?”‘ wil hy weet.
“Maar dis eers môre, dit staan dan duidelik so in my MOU!” protesteer ek wetende dat die meneer nooit geleer het hoe om te lees nie.
“Dis nou, asseblief... jaaaag!” smeek hy.
Ek draai in by my huis in Pretoria, Google gou waar Zebula is om tot my skok te sien dis ver ander kant Warmbad, 180 kilometer van hier boendoes in.
Gooi als in die kar, Maverick oop op die sitplek langs my, stel die kar op 145 km/u en slaan die N1 met my oog op my eksentrieke bonnet embleem, ‘n tier, as riglyn na die Noorde.

Deur Warmbad, elke robot ‘n genade, gee my kans om verder deur Maverick te lees. 50 km verder draai in by Zebula, nou hier is dit grênd, baie grênd. Die ouens wat hier uithang ken en weet van. Hartseer egter is dat die beeldskone Bosveld deur ‘n golfbaan en aanloopbaan geskik vir ‘n 747 verniel is.
Ek stop presies 2 minute voor twee by die klubhuis. Carel stap heen en weer. Hy het ‘n wit loshangende Pringle aan met ‘n dik goue ketting om dit af te rond.
“Gee my net 5 minute om my hare te kam,“  vra ek.
“Ok, maar waar is jou memory stick solank?” wil hy weet.
“Ek het nie een nie,” en sy moed sak verder in sy skoene.
Hy stel my voor aan Walter, sy baas. Die groet my sonder om eens oogkontak te maak en kyk na my tone soos iets wat my gemmer kat aangedra het.
Daar is so ‘n saaltjie. Hulle sit daar omtrent vyftig van hulle, 45 jaar oue Afrikaanse mans. Walter op die een punt, Carel so ver moontlik van hom af en in die middel meneer Pretorius, Mellet Pretorius, die stigter eienaar van Mellet Begrafnis Dienste Franchising CC.
Hulle het sulke sagte oë, almal glimlag mooi vir my toe Carel my met swier voorstel, en dinge verdraai: “Hy het toe die grade dit en dat met onderskeiding aan .. waarnaas hy...bla bla bla "
Walter hou homself besig deur op sy Blackberry te vee en maak hom reg om vandag van Carel ‘n fool te maak.
As ou hand in die aanbiedingsbedryf laat ek my nie deur sulke outjies intimideer nie. Trek weg met ‘n aanhaling, spot met myself wat soos Mr Bean lyk, almal lag te lekker, stel die Nominal Group tegniek voor en tot hulle verbasing laat ek hulle al die werk doen.
Vertel hulle van Baby Boomers en demografiese skuiwe van ouer wordende mense en waar ek dink die volgende oeslande vir hulle sal wees. Die Suidkaap natuurlik boaan die trefferslys.
Hulle is verbaas wat hul als moet hoor, netjies geneem uit Maverick en hulle dink ek is baie slim. “If can not make it, then fake it!” bly immers my leuse.
Ons vat ‘n rookbreek, kom bymekaar breek in groepies, deel ons notas lag lekker en almal, behalwe Walter wie se naam nou g%^&t is, is vredig. Meneer Pretorius smee ‘n verwantskap en almal is gelukkig. Ek gesels met hulle. Een en dieselfde storie: “Ek  was net 35, my oudste dogtertjie in graad 3, toe fire hulle my mos. Toe vat ek my pakketgeldjie en koop ‘n franchise by Mellet. Ek kyk nie terug nie.”
Almal was in die staatsdiens, stadsrade of semistaat in een of ander menslike hulpbronne department. Selfs polisiemanne en twee dominees..
Ek stap deur die parkeerterrein. SLKs, 7 reekse, E klasse, Prados en selfs om dit alles te kroon; 3 Cheyennes!
Stel die kar op ‘n matige 85 km/u en ry rustig deur ‘n Hoëveldse donderstorm terug en verwonder my oor die lewe. Was dit nou alles nodig, kon hulle nie maar gelees het nie?
 En my gehoor?... hulle verdien dit. Die mense doen werk wat ek en jy nie kan of wil doen nie, hulle het uitgestyg bo hulself en maak reuse sukses daarvan...

Die lewe is mooi!

Friday, December 9, 2011

Vaderlike Raad: 'n Stouterige Storie as 'n huldeblyk aan Scope wat ons lewens in 'n era van onderdrukking opgehelder het

Gemerk 18NLV nie vir sensitiewe kykers nie


(Aangepas uit die boek "Oepse Daisy" van C Johan Bakkes, hy het sy toestemming, al die pad uit Siberie, hiervoor gegee)

Dis Donderdag middag toe Pietertjie met groot oë by die huis kom."Pa, kan pa my help asseblief?" vra hy.

    Koos kyk gesteurd op van sy werkbank waar hy staan en skaaf en probeer om sy soveelste skewe en krom tafeltjie aan mekaar te slaan. "Wat is dit nou weer Pieter?"
   
    "Pa, die kinders praat dinge by die skool wat ek nie verstaan nie," sê hy, "Wat is 'n Doos, Pa?"

     Koos sit sy gereedskap neer en bly lank stil. "Waar is ma?" vra hy.

    "Sy is nou net PicknPay toe en dan gaan sy na Ouma en vier uur is haar hare bestelling. Sy het gesê sy sal take aways bring want dit gaan dit laat word om kos te kom maak." antwoord Pieter.

    "Wat ek nou vir jou gaan vertel, vertel jy vir niemand nie hoor! As Ma hier van moet hoor het ons groot moeilikheid!"

     "Dis reg so Pa, ek sal vir niemand 'n vertel nie, Pa ken my mos." antwoord Pieter.

    "Kom saam," beveel Koos, en loop na die oorkantste muur van die garage. Daar is ou bokse, stukkende gereedskap, planke en vele ander ou vergaderde goed. "Kom help afpak." beveel hy.

    Koos en Pieter pak moeisaam alles op die garage vloer, dit neem omtrent 'n driekwart uur totdat die laaste dinge oorbly. Net 'n Klein houtkissie met 'n reuse slot bly oor.

    Stadig en moeisaam kom Koos op sy knieë, haal 'n sleutelhouer uit sy agtersak en tot Pieter se verbasing sluit hy stadig dit oop.

    Binne in is baie ou papiere en dinge, moeisaam blaai Koos deur dit en uiteindelik kom dit te voorskyn: 'n 1975 Scope!

    Koos begin blaai vanaf bladsy een stadig en doelgerig tot hy uiteindelik by die centrefold uitkom. "Sien jy die girl, Pieter?"

    "Ja Pa," antwoord hy, nou wasbleek.

    "En sien jy daai drie sterretjies?"

    "Ja Pa...," stotter Pietertjie.

    "Nou laat ek nou vir jou vertel wat, die ou wat dit daar gesit het, wel hy was 'n Doos!!"