© 2012 VDS Brink
(‘n Storie is so iewers
tussen die waarheid, die liegstorie en my verbeelding.)
Sy kyk na dit in haar bewende hande. Dit glim metaal blou, 'n 9mm pistool. Sy het nog nooit so iets vasgehou nie. Voor haar 7000 mense, vooroor gebuig, reg vir aanval. Sy is bang...sy weet almal kyk vandag net vir haar, dat alles nou van haar afhang en dat as sy die sneller gaan trek daar geen fout mag kom nie.
Sy staan op ‘n verhogie en by haar Meneer die Hoofbestuurder
in sy kispak, goue cufflinks en ‘n donker rooi das. Hy sê sag vir haar,
“Jy lyk pragtig vandag, mammie.“
Mevrou is getooi in ‘n snyerspakkie, goue oorbelle
en Kurt Geiger hoë hak skoentjies. Alles mooi afgerond met ‘n Gucci handsakkie.
“Ja, maar sê nou ek doen dit verkeerd, ” fluister sy bang.
“Toemaar ek sal jou mooi help,” antwoord hy, “My
toespraak is maar net 27 minute lank en as ek sê, ‘nou ten slotte’, dan lig jy
jou hand en as ek sê ‘dankie’ dan trek jy die sneller.” Sy lyk onseker, maar hy
gee haar ‘n drukkie en haar lippie bewe nie meer soveel nie.
Welkom by
McBain Toyota se jaarlikse Brooklyn Mall halfmarathon! Die verhaal wat hom Saterdae half ses soggens afspeel as duisende padhardlopers die
langpad aandurf. Die een is nie vir sissies nie en na twintig en meer
kilometers is dit net die uitverkorenes wat oorbly. Dis hier wat ons klein
outjies gedy en die macho tall-dark-and-handsome tipes ore aansit.
Ons is reeds vroeg daar, ingeskryf, Deep
Heat ingesmeer en die adrenalien loop dik. Ons gesels opgewonde met vriend en
vyand, spog aan ons voete met peperduur Pumas, Adidas en Nikes terwyl ons die
veelkleurige hempies van ons klubs vertoon.
Die toneel opgestel, McBain se vlae wapper vrolik
in die windjie, die Metro polisiemag is op hul pos. Vandag gaan almal dit
geniet, niemand sal seerkry nie en weer sal McBain en sy wonder voertuie
koning kraai. Die lewe is mooi!
Die hardlopers staan opgelyn, die met ‘n oog op die
goue beker het hulself heel voor ingewurm en staan effens vooroor reg om die
eerste 50 meter baie vinnig weg te kom van die tierende massa. So twintig meter
voor hulle staan ‘n uit-die-boks metaalgrys Prado met ‘n luierende masjien. Op
sy dak ‘n reuse digitale horlosie wat pryk met die syfers 0:00:00.
Die instruksies duidelik aan die senuweeagtige
drywer gegee, “Luister Koos, moet nou nie weer opneuk nie, jy kyk voor jou, hou jou hand op die horlosieknop en as die
skoot klap druk jy dit dadelik, dan ry jy en jy bly twintig meter voor die
voorste hardlopers.”
Meneer dreun voort, terwyl Mevrou senuweagtig die pistool vashou. Tot almal se verveling besing
hy die lof van McBain en die Toyota Motorkorporasie en hoeveel hulle vir ons,
ons wonderlike stad, ons land, ons mense, veral die kinders, die renosters daar
onder in die Laeveld, die perlemoen in die see by Hermanus en die mooie omgewing omgee ...
McBain verbind hom derhalwe weereens daartoe om alle rolspelers aan te moedig tot 'n paradigma skuif in hul denke vir die daarstelling van 'n volwaardige en volhoubare toekoms vir ons land en sy mense ... die hardlopers raak al meer ongeduldig.
Toe gebeur dit ... ’n sersant van die Tshwane
Metropolisiemag, getooi in leer en vele medaljes, kom luidrugtig ingery bo-op
‘n BMW GS en maak ‘n swierige draai voor ons almal. Net toe hy terug throttle
gee die GS ‘n luide misfire, "Gwhaaa!!".
Niemand roer nie, maar Koos, die Prado bestuurder, fokus op wat saak maak, trek weg teen 15 km per uur en bo-op sy dak tik die horlosie meedoënloos 0:00:01, 0:00:02, 0:00:03....